Our Stories

Our dedicated story teller – Marietjie Fourie

BLINKPLAN HASIE 1
(En die muisies)

Een oggend vroeg kruip twee klein muisies uit hul warm huisie. Hulle pappa en mamma is reeds weg om kos te gaan soek.

“Waarheen gaan ons, mamma het gesȇ ons moet by die huis bly.”

“Toe maar jy sal sien, moenie bang wees nie!” Sȇ die ouboet.

Vinnig hardloop hulle deur die lang gras. “Kyk, sien jy die ou stukkende kar, ons kan daar gaan speel.” Hulle kruip by ‘n gaatjie in en net toe hulle binne is, hoor hulle ‘n gesnork. O! wee! Dit is die kat, en nou is hulle in groot moeilikheid!

Gelukkig het Blinkplan Hasie gesien wat die twee stouterds doen. Hy het geweet die kat slaap altyd daar. Hy dink vinnig aan ‘n plan.  Toe spring hy ewe vrolik op en af en sing kliphard. “’n Kat kan my tog nie vang nie, o ja, ja!” “’n Kat kan my tog nie vang nie, o ja, ja!” Die grootoog kat  word wakker en is dadelik kwaad. Sy spring op en jaag die arrogante hasie tot in die bos.

Die twee muisies glip gou uit en nael vining as wat hule kan huis toe. Hulle sal maar later vir Blinkplan Hasie gaan dankie sȇ en liewer volgende keer vir hulle mamma luister.

BLINKPLAN HASIE 2
(En die Muisies)

“Mamma, kan ons asseblief vir Blinkplan Hasie gaan kuier, ons sal gou terug kom?” Vra ouboet muisie. Hulle wou eintlik gaan dankie sȇ. “Julle moet voor ete terug wees, hoor!” Antwoord mamma.

Die twee is so bly hulle dans sommer al die pad tot by Blinkplan Hasie se huis. Maar Hasie is toe nie tuis nie. “Wat nou, wat gaan ons nou doen?” Vra altwee muisies gelyk. “Kom ons gaan soek hom by die rivier.” Sȇ die ouboet.

Oppad hoor hulle ‘n snaakse geluid. “Wat is dit, ek is bang.” “Hoo, hoo, dit is ek, oupa uil en julle is lekker kos vir ‘n uil!” Die hasies gaan aan die bewe. “Ag oupa uil, ons soek vir Blinkplan Hasie om dankie te sȇ. Hy het ons lewens gered.” Oupa uil kry hulle jammer en hy weet alles wat in die bos aangaan. “Hy het gaan water haal, maar julle moet versigtig wees en nie so vȇr van julle huis af gaan nie.” Hulle het Blinkplan Hasie gekry en dankie gesȇ. Hy was so gaaf, hy het saam met hulle tot by hul huisie gespring. Hulle mamma was so bly, sy weet Blinkplan Hasie het haar seuntjies beskerm. Sy nooi hom om saam koeldrank en koekies te geniet.

Call Now Button